March 30, 2012

The world…. ?

Posted in Uncategorized at 09:34 by amadeatravel

The world according to America ( lol)

March 23, 2012

Some Travel humor

Posted in Uncategorized at 16:53 by amadeatravel

March 14, 2012

-Turkye 2011- deur Celest

Posted in Uncategorized at 14:17 by amadeatravel

Turkye 2011

 ‘n Hopie klere. ‘n Hopie teniese dinge. ‘n Hopie dinge wat nog gedoen moet word. ‘n Hopie bladsye met besprekings, begroting en paspoorte. Ons is oppad Turkye toe, ons hopie hoop vir vakansie! Ons is soos twee nagrotte op Londen se treinspore – skarrel woerts warts die langverwagte vakansie se pak, en darm nog ‘n uur se vinnig slaap ook.

 3:00 wekker

 3:25 stap na die busstop

3:31 57 nagbus

4:09 Clapham Junction treinstasie

 Ek wil net gou seker maak die Debenhams is waarlik afgebrand deur die ‘riots’, ja wraggies. Swart soos die nag. Klik ons tong in jammerte en skommelstap met ons rugsakke vet gelaai die stasie in.

4:12 koop kaartjies vir die 4:14 trein na Gatwick wat stiptelik vanaf platform 13 vertrek… SONDER ONS! Met etlike sekondes tussen ons en die trein staar ons die trein na op bewerige bene. Met die laaste stel trappe weet ek 3 bikinis was onnodig.

So sit ons en wag vir die 5:10 trein na Gatwick lughawe. Dis toe ons bene ophou bewe en die Ierse stasiemeester se luid gelag en praat ons wakker skrik, dat ons besef ons sal nog so sit en wat en moontlik die 6:05 GATE CLOSES vir ons 6:30 Easy Jet vlug na Istanbul nie haal nie!

 Die rugsakke sit nog vars op ons rug en die toerspanning begin.

Verdwaas bekommerd loop ons heen en weer verby die afgebrande Debenhams…klik ons tonge in jammerte vir onsself. £50 vir ‘n taxi wat ons moontlik 15 min vroeër as die trein by die lughawe af sal laai?????No ways!

Terug op Platform 13 vat ons hande en bid ‘n noodkreet. Ons is tjoep bekommerd stil. Die stasiemeester dom vrolik luid.

5:10        Stiptelik staan ons voor die trein, ons geloof sterker as ons bene onder die sakke. Pak af. Sit. Joshua se mond is droog. Twee stoppe verder is hy wit. Nog twee stoppe verder, bewe hy liggies. Die laaste twee stoppe staan ons al voor die deur. By elke stasie soek ek klokslag die tyd met hoop dat die tyd miskien 5minute genade vir ons gee. Maar nee.

5:48        Gatwick Airport.

Joshua skiet soos ‘n pyl uit ‘n boog, sak en al. My wange bewe soos ek die trappe agter hom twee vir twee spring sonder om my bene te voel. Easyjet se toonbanke lyk soos 1994 se verkiesing…”Turkey!” skree Joshua. “Istanbul!” skree ek agterna. “Right here in front…” se die Samaritaan in sy Easy Jet uniform terwyl die lot in die tou oë rol en sug. Ons bewe of ons melaats is. Ons het die vakansie meer nodig as ooit. Wit sweet vingers gryp ons kaartjies en ons hol…ons hol witgesig grootoog deur paspoortbeheer tot by ons hek, in die tou. Verby ons ontbyt, verby die noodsaaklike Boots inkopies, verby die meer noodsaaklike toilette…

6:15        Ons sit kierts

6:30        Die vliegtuig taxi twee jubelende harte op jellie bene.

Vol verwagting land ons in die vreemde land. £10 koop vir my ‘n visum wat maar baie soos ‘n posseël lyk. Paspoortbeheer verstar hom aan die ander visums in my paspoort, vryf oor elkeeen se blink, en kyk dan weer vir die posseel. Wys eers die blinkes vir die ander wat blinkoog staar, terwyl Joshua lankal aan die anderkant wag. Die stamp of approval en ek is deur – eerste klas pakkie ruksak…laat die avontuur begin!

Met die groot sak op Joshua se rug en die kleintjie vol bikini’s op myne, stap ons onder leiding van die Lonely Planet en soek die tremstasie…ons stap die lughawe plat, die parkeerarea, elke hoek en kant terwyl die polisie ons verveeld verdag aankyk…toe Joshua besef ons lughawe is die een op die volgende bladsy – die een wat nie ‘n tremstasie het nie!

Lag-lag kry ons onsself vinnig op ‘n bus wat beloof om ons in die hartkamer van Istanbul te gaan aflaai. Oppad soontoe staan blokke beton geboue soos hoë cholesterol langs die pad. Hier en daar het ‘n argitek ‘n blink plan gekry en ‘n beton blok met weerkaatsende vensters toegeplak, of gewone lyne gebruik om ‘n buitengewone gebou soos ‘n uitroepteken aan die einde van ‘n eentonige sin te laat staan.  Met hierdie hoë cholesterol weet ons nie wat om in die hartkamer te verwag nie…maar een ding besef ek, hierdie land se ‘mooi’ is anders as wat my oog ken.

Toe die bus weer stop en almal – insluitende die bestuurder – uitklim, besef ons dis nou seker waar ons ook moet afklim.

 Af is ons, en dadelik verdwaal ons tussen die 10miljoen inwoners van Istanbul en ‘n horde ander toeriste. Die vreemde taal maak net so min soos ons kaart sin en ons loop verdwaas swaar sweet sirkels al om die plein waar die busse en toue en toue mense staan. Tourist info? ‘n Besigheidsgeleentheid! Daar is niks.

 Net voor ons sweetkolle onder ons arms wou deurslaan, stop ‘n siel met kennis van miskien 20 Engelse woorde om ons te help. Kyk die kaart…sien die eerste tekens van die sweetkole en besef hierdie is dringend. N Oproep na sy broer en kry ons vining die beste, maklikste manier tot by ons hotel…ons moet in ‘n lang pad af stap en nog stap, ‘n trem vat en dan nog bietjie stap. Maklik!

So begin ons, en die slagaar van Istanbul suig ons in. Dit gons van die mense! Sandale, tekkies en hakkies in en uit by al die bekende High Street winkels wat hoog en uitlokkend die straat af strek. Kebab restaurante, waentjies met straatkos smulkos op groot wiele, die amusante roomysverkopers se klokke wat skielik bo alles uitlag, vrugte – helder, ryp en groot uitgestal vir vars uitgedrukte sap, die reuk van speserye, vreeemde parfuum, seep en kos…die mengelmoes van klanke, kleure en geure is altesaam vreemd, opwindend, mooi en ons word opgewonde, honger en haastig!

Rem rem is ons die steil straat af, op die trem wat vining deur die verkeer wurm, dieper kruip ons in. Die trem terg ons deur ‘n nou straatjie en die lekkergoedwinkels se watertand vensteruitstallings en klein winkeltjies se sigeuner blinkgoed is beina onder ons neus. Minute later is ons by ons stop en le daar nog ‘n steil afdraende voor vir ons, verby ons hotel, omdraai, weer soek…uiteindelik!

 Nou moet julle verstaan, behalwe vir die hier en daar rykmans hotel, is ek met elke hotel verlig dat dit nie ons hotel is nie…nie een lyk belowend nie…

 Die grys patroonteels agter die toonbank staar blinkoog na ons, maar ons voel welkom! Vriendelik word ons in ‘n hysbakkie geprop, miskien groot genoeg net vir ons sakke, styf-styf teen mekaar; ons en die portier. Glimlag en lag hoef nie vertaal te word nie, so ons doen dit maar al vier vloere op tot in ons baie basiese, skoon kamertjie. Ons stort Londen van ons velle af en begin ons avontuur met ‘n lang, rustige en baie diep slaap.

Slaapbedwelemd word ons later wakker, baklei onsself terug in realiteit. Met die idee van ‘n ware Donner Kebab is ons uiteindelik op en so begin ons Istanbul van ‘n kant bekyk en plat stap. Wat ‘n verrassing! Ons het nooit regtig oor ons verwagting vir Istanbul gepraat nie, maar ons het die stad onderskat!

Heel eerste gaan stap ons seëlangs. Met die son wat net begin wegraak in die deinserige stadslug, stroom families na die grasperkies voor die see. Elke familie met bakkies vol vreemde, uitlokkende helder kosse, ‘n klein braaiertjie en shish kebabs op die kole. Die atmosfeer trek ons hart terug SA toe, maar dis net die vleis en famiievreugde waarmee ons bekend is. So sit die gesinne luilekker en hou ‘n braai piekniek terwyl die paadjie waarop ons loop soos ‘n karnaval voel.

Klein tafeltjies met skaak en backgammon , teeverkopers met kannetjies tee, glasies en blokkies suiker, ou ooms met sakke vars brood en houers vis maak vinnig en handig visbroodjies vir honger kopers, balonne hang kleurvol aan toue wat gespan is op die rotse en vir ‘n Lier of twee kry jy ‘n paar koeëls en ‘n BB Gun om balonne te skiet, en so is ‘n gewonde Saterdagaand ‘n fees!

Die atmosfeer is lui, rustig en feestelik. Dit vat ons lank om op ‘n Donner te besluit en eet ons eerste Turkse kebab op ‘n taai tafeltjie. Oppad terug koop ons ‘n boksie stroperige baklava en gaan eet dit op die dak restaurantjie van ons hotel terwyl ons kaart speel en turkse tee drink uit klein glas koppies onder ‘n volmaan. Die baklava was sleg en teleurstellend, maar ons eet maar siende ons ‘n hele boksie het! En so slaap ons rustig met ons eerste kebab en baklava in ons magies, terwyl die Turke vreemde woorde onder ons venster in die strate skree.

Vir ontbyt proe die olywe maar sterk en draai ons magies om die tamatie en hard gekookte eiers. Die vars waartlemoen herhinner ons weer dat dit ontbyt is en ons is reg vir die dag. Die Turke slaap duidelik laat na die nag se kattermaai en die strate is stil. Ons stap na die Blou Moskee, die Sultan Ahmed Moskee. Majestieus reis die grys gebou voor ons uit. Doodstil staan dit voor ons, terwyl die stad saggies om dit wakker word. Die ry toeriste is nie te lank nie en ons val in om die magdom blou teëls en aanbidders te gaan aanskou. Maar iets voel nie reg nie. Toe ons besef ons moet ons skoene uittrek om by die ‘heilige’ aanbiddingsplek in te gaan, besluit ons om verby te hou – ons wil geen ander god eer betoon nie, nie vir ‘n duisend blou teëls nie.

Reg oorkant die grys blou gebou staan ‘n gebou, amper dieselfde grote, wat eens op ‘n tyd ‘n kerk was, die Aya Sofia (Hagia Sophia,ingelyf in die jaar 360). En so staar die kerkmonument en die moskee mekaar nou al jare aan.  By die kerk monument is ons in en verdwaas staar ons goue mosaiek kuns van Jesus, sy dissipels, Moeder Maria en nog meer aan. Die kerk was ryklik versier met kuns en teeltjies en is ‘n indrukwekkende gebou. Groot gedeeltes van die mosaiek was toegeverf toe die kerk as ‘n moskee gebruik was. Van dit is herstel. Dis interessant dat die Aya Sofia gebruik is as ‘n model waarop die moskees in Istanbul gebou is.

Van daar af stap ons rustig af na die seekanaal, die Bosphorus. Hierdie kanaal dien as ‘n grens tussen Asië en Europa en verbind die Swart see met die See van Marmara. Daar aangekom sien ons daar is ‘n boot wat binne minute gaan vertrek…dis toe ons die eerste (van vele) ystees koop dat ons besef hoe goedkoop die ystee ons uitwerk!Met ‘n paar blikkies ystee en skyfies haas ons om op die boot die beste van die paar sitplekkies wat oor is te kry. Die bootrit met Asië aan die een kant en Europa aan die ander, is baie rustig en ‘n moet vir toeristebene.

Nee kyk, na die boot is ons weer reg om te rus en het ‘n lang en diep middagslapie ingewerk. Toe is ons weer reg om die stad se naglewe te gaan ondersoek. Weer terug verby die Blou moskee opsoek na ‘n plekkie om te eet, staan ons eers stil om die atmosfeer te probeer vasvang. Op die sypaadjie met ons eerste Turkse roomys sit ons en aanskou die kermis wat voor ons afspeel. Terwyl die massa mense wag vir die son om te sak  sodat hulle kan eet (dit was Ramadan tyd), doen die kosverkopers hulle beste om seker te maak die mense raak nou regtig lus vir die kos. Masiewe stukke waartelemoen word in trollies rondgestoot, pienk bolle spookasems waai rond in die wind, diepvet gebraaide koekies – wat ons later tot ons diepe plesier uitvind soos koeksusters proe – staan soos ‘n vet Turk en wink uit die glaskas op wiele, die reuke van gebraaide neute, vis, uie – ‘n kermis mense, ‘n kermis!

       

Van daar af stap ons toe ‘n uur of twee opsoek na ‘n plekkie om te eet, toe ons op die einde uit pure moegheid van al die soek, ‘n visbroodjie by die Bosphorus gaan koop en verslind. En was ons nou aangenaam verras! Die mense staan tou om so broodjie sommer so van die bote af te koop, en ons verstaan hoekom!Na dit pak die avontuurlus ons weer aan en ek kry sommer ‘n plastiek glasie vol sap en goeters in die sap, met ‘n geloof dat alles in Turkye moet lekker proe…net om te proe dat dit ingelegde groente in asyn is! Ek is nou nog nie seker of dit as aas verkoop word, of geeet moet word nie, maar dis sleg! Ons kry toe ‘n vet turkse koeksuster om die asyn af te sluk, en sommer nog een van pure lekkerte en toe gaan drink ons tee uit klein Turkse glas bekertjies/koppies by ‘n opelug Turkse kafeetjie onder die maan en langs ‘n toring wat so oud is dat die datum my nou skoon ontgaan het.

Wat meer wil ‘n Koekemoer nou he?!?!?Versadig en heel gelukkig pak ons die tog huis toe aan, oor die brug waar die Turkse mans nag en dag visvang. Die Turke se nasionale stokperdjie is visvang, al wat ‘n poeletjie water is, het ‘n turk met ‘n vistok. Nog slegte baklava, en ons slaap weer diep!

Die volgende dag is die Topkapi Paleis op ons lysie en staan ons geduldig in die toue om kaartjies te kry. Dis bloedig warm en vroeg die oggend voel ons reeds lui van die hitte. Ons lag vir die ander toeriste wat orals eerste wil wees, terwyl ons die eerste groot boom gekies het om eers te rus, alhoewel ons pas daar aangekom het.

Die paleis word beskou as van die bes behoude Ottoman styl paleise en is begin bou in 1459, en het ‘n aardbewing en ‘n brand oorleef. Dit is glad nie soos ons ‘n paleis ken nie, daar is verskillende geboue op die perseël, en soos ons ‘n vertrek  sal hê, het hulle eerder ‘n gebou, die biblioteek sal bv ‘n geboutjie op sy eie wees.

Ons het die Harem besoek en baie interessant gevind.Harem beteken letterlik ‘privaat’en  is die hoofkwartier of die ‘huis’ gedeelte van die paleis. Dit is uiters luuks (as jy in ag neem hoe oud dit is) en ryklik versier met teëltjies. Die Sultan se kamer kyk uit op ‘n groot swembad waar dwergies toertjies uitgevoer het om hom te vermaak. Daar het tot 300 vrouens in die Harem gewoon en die een Sultan het 112 kinders gehad! Daar was baie goed na die vrouens gekyk; hulle was eers geskool in Turkse tradisies,asook  klere en grimmering onder andere. Hulle was nie slawe nie, en baie van die meisies was as geskenke aan die Sultan gegee.

Ons het seker elke gebou wat oop was besoek. Daar is ‘n ryke versameling skatte, juwele en geskenke en is iets asemrowends; ons het ‘n punt bereik waar ons dit nie meer kon inneem nie! Moses se staf is ook deel van die skatte wat bewaar word.

Die paleis het ‘n pragtige uitsig oor die Bosphorus.

Na ons besoek aan die paleis, is ons terug hotel toe om ons sakke op te tel, op n ferrie om ons na Asië toe te vat waar ons by ‘n histories en pragtige stasie vir ons trein wag. Daar drink Joshua nog ‘n teetjie of twee…en ek drink ‘n lemonade…waarvan die suurlemoene toe ‘n partytjie afskop in my maag en ek nie deel van is nie! O genade, twee ure op ‘n trein waar ek glo ek is nie siek nie en Joshua net rug vryf en bid. Kyk, ‘n toilet op ‘n trein is een ding, maar ‘n Moslem toilet op ‘n trein is ‘n ander ding!Ek was nie besonders lus om die ding in die oog te staar terwyl my suurlemoen partytjie uitklim nie!Maar toe die trein stop…en my voete vaste grond tref, toe weet ek dis nie net bietjie snaaks voel nie, dis erg en dringend! Soos mes het Joshua die toilette gekry en die arme oom wat die deur beheer maak vir my sommer oop nog voor hy weet of ons geld het om te betaal…en toe staar ek eers die gat toilet handeviervoet aan…en daarna die partytjie wat eens in my maag was. ‘n Naarheid, so suurlemoentjie. Met ‘n bietjie koue sweet op die voorkop is ek weer in Joshua se arms en wag ons vir ons deurnag trein na Ismir waar ons ‘n aansluitingstrein kry Seҫuk toe.

Die trein is een van ons hoogtepunte van die toer!!!Alhoewel ek nog siekerig gevoel het, was die trein ‘n onvergeetlike ervaring. Niks luuks nie, maar alles wat mens nodig het. In ons kompartementjie was daar ‘n yskassie met water, sappies , sjokolade en ander bederfies; ‘n wasbak en twee bedjies met skoon, wit linne elk met ‘n kombersie. Die oomblik wat ek gaan lê het, het ek beter gevoel. Joshua het ietsie in die restaurant gaan eet, en toe kom inkruip – letterlik – in die klein bedjie vir ‘n nagrus met die trein wat ons ritmies aan die slaap sus.

Die volgende oggend is ek weer perdfris en gereed vir ontbyt en ons het ons eerste koffie gehad sedert ons uit Londen is, met ‘n goeie stukkie beskuit uit ons rugsak!

Die personeel op die trein was so vriendelik en hulpvaardig en het ons tot in ons kompartement kom haal toe dit ons stop was.

Ag, hoe wens ons die personeel kon ons nog ‘n bietjie verder help as net by die trein uit…weer terug by niemand wat Engels praat nie, en ons is so deurmekaar ons weet nie eers op watter bladsy ons is in die Lonely Planet is nie. Ons was veronderstel om ‘n trein van daar af te kry, maar toe is iemand besig om ‘n film te skiet op ons einste platform vanwaar ons sou vertrek…en daar staan ons langs die pad, weet nie watter rigting of watter kant nie.

Toe Joshua uit pure frustrasie die eerste naaste geel taxi afwaai, was hy bereid om ons spaarplan te gee as dit beteken ons kan net weer by die regte plek uitkom. Die taxi oom kyk vinnig wat ons in die boek wys, praat vinnig en kry ons sakke nog vinniger in die bak…alles wat mens verdag laat voel dat hy nou die kans sal vat om sy maand se salaris in een dag te verdien.

 Geel besef ons toe vinnig is gif…kyk, hy weet waar hy wil ry, maar ons was nie aldag seker nie. Dan in die middel van die pad, dan half van die pad af, dan weer reg in die middel. Joshua en ek lag maar net verbouereerd, maar in die geel gif is immers beter as langs die pad met swaar sakke! Die oom gesêls dat sy tabak spoeg spat en Joshua se ja en nee asof hulle oor gister se rugby gesels. Tien minute later laai hy ons by die busstasie af en ek en Joshua betaal dankbaar verrassend min. Ons het vinnig geleer, die manne hou van hand skud in Turkye; asof ons nou groot besigheid gedoen het om van sy diens gebruik te maak, skud Joshua die oom se hand plegtig en hy klim grootman terug en skiet weg, ‘n gif spatseltjie op die pad.

En dis toe by die einste busstasie wat ons kennis maak met die Turkse Dolmus…mini taxis wat vinnig en effektief basies die hele Turkey verbind. ‘n Eenvoudige, maklike sisteem en ons is vinnig gelaai in ‘n halwe brood op wiele. Dit was so interessant om die manne dop te hou; hulle is baie ernstig oor hulle besigheid en die seuns is van jongs af deel van die besigheid. Ons het vele male jong latte gesien wat netjies aangetrek is en onder sy pa se leiding die besigheid leer, in vakasietyd.

Elke Dolmus is verskillend, afhangend van die eienaar. Sommige van die Dolmusse het vir ons koue water, koeldrank en koekies bedien. Sommige is vreeslik opgemaak en versier en uitgelê met ‘n tapyt of twee. Dit was vir my elke keer ‘n verrassing om te sien wat vir ons wag…

Nie lank nie, toe is ons by Selcuk se Otogar, of eerder taxi rank. Selҫuk is een van die dorpies naby aan Ephesus, die rede waarom ons daar is. Natuurlik moet mens eers jou lêplek opspoor in die smoor warm hitte. Die Turke vra graag of hulle jou kan help…soms te graag, en mens weet nie altyd wie wil jou beroof en wie jou wil help nie. Ons vra gewoonlik die ou, en soms nors, oomies. Hulle is darm te stadig om te steel en gewoonlik lank genoeg daar om ons ten minste die regte rigting aan te wys. Joshua is soos ‘n GPS en maak sommer gou sin van rigting en stap vir ons reguit na ons huisie toe, asof hy ‘n week terug daar was.

Amazon Antique – wat ‘n lafenis vir ons siel! Ons blyplekkie voel of ons by familie op die plaas kuier! So rustig en die eienaar van die plekkie was uiters vriendelik en behulpsaam. Ons het dadelik gaan stort en terwyl ek besig is, het Joshua gaan vra vir ietsie om te eet, waarna hy vir ons ‘n koue bord vars opgesnyde vrugte bring. Onvergeetlik was ons saligheid op ons stoepie voor ons kamer. So eenvoudig, niks luuks, maar als wat jy nodig het, met kwansuis Lifeboy in die badkamer!!!

Na ons asem geskep het, en sonbrandolie dik gesmeer het, het ons weer die pad aangepak oppad na die befame Ephesus. Twee bottels water onder die arms waai Joshua ‘n taxi af nadat ons alreeds twee roomyse geëet het om af te koel. Ook maar goed, want dit sou ‘n entjie se stap en ‘n hele paar roomyse gekos het.

Ephesus. Wat ‘n plek om te sien. Joshua was so opgewonde, hy wou letterlik agter elke boom gaan kyk of die argeoloë nie dalk iets gemis het nie…ek wou eerder onder elke boom gaan sit, dit was bitter warm met min tot geen skadu. Ons het gelukkig in die middag gegaan en die hitte het soos ons verder gestap het, minder geword. Daar is soveel interessanthede dat ek dit nie kan opsom nie. Wat ek kan se, is dat die Romeine geweet het wat belangrik is in die lewe.

Hulle het reeds lopende water gehad wat in terracotta pype ondergronds veroer was…alles wat hulle gebou het was groot en mooi en indrukwekkend. ‘n Beeld van Trajan was drie keer die groote van die oorspronklike man en sy voet het gerus op ‘n ronde bal wat die aardbol verteenwoordig het, dit beteken die Romeine het reeds geweet die aarde is rond!

 Die hoofstraat is weerskante uitgelê met marmer pilare en marmer standbeelde. Die pad self was van marmer blokke gele. Die onderste foto is slegs ‘n gedeelte van die hoofstraat en daardie pilare was almal so groot soos op die boonste foto….

Die argief het steeds blokke marmer met wetgewing en elke liewe persoon wat gevange geneem was met sy uitsrpaak uitgekap en opgeneem. Die biblioteek is ‘n asemrowende gebou waar 12 000 boekrolle gestoor was, dit maak dit die 3e grootste biblioteek van die antieke wereld.

Ons was in die ‘terraced houses’ wat die luukse rykmans wooneenhede was. Ongelooflik. Hulle is tans nog besig om stukkies teels te pas en plak om dit so ver moontlik te herstel, maar self s net dit wat ons kon sien was reeds ongelooflik. Dit was massiewe huise met badkamers, stoomkamers, eetkamer, slaapkamers en lopende warm en koue water.  Daar is 22 verskillende tipes marmer gevind wat gebruik was.

Die opelig teater/arena is absoluut kolesaal en is nog in ‘n baie goeie kondisie. Die teater kan 25 000 mense sit en die akostiek is besonders sensitief! Argeoloë maal die teater se kapasiteit met 10 om ‘n rowwe aanduiding te kry van die hoeveelheid inwoners van die stad. Dit beteken dat Ephesus rofweg 250 000 inwoners gehad het!

 Paulus het vir 3 jaar in Ephesus gepreek, spesifiek teen afgodery. As mens die masiewe standbeelde sien, besef mens net hoe sterk sy geloof moes wees om teen dit te preek.

Verder was daar ‘n atletiek arena met ‘n oefenveld, baddens, toilette, onderdak oefenkamers, ‘n swembad en ‘n serimonie vertrek.

 Johannes en Maria het later ook in Ephesus gaan bly en ons het op ‘n doopbad afgekom in ‘n kerkie wat ons dink Johannes moes gebruik het. Hy is in Selcuk begrawe. Joshua staan in die doopbad…

Na die doopbad het Josh nog die grasse in geploeg en ek agterna tot ek begin bang raak vir slange en skerpioene en dit was maar die einde van ons soektog. So is ons van die laaste siele om daar uit te kom. Ons het so aangename rustige tyd gehad en onder leiding van die Lonely Planet alles opgelees. Daar was heelwat mense, maar nie te besig nie. Bleikbaar is die plek besonders besig in die oggende. Ons was dankbaar, daar was net genoeg mense dat mens kon indink hoe die stad moes wees met al die lewende lywe, maar rustig genoeg om op jou tyd na ‘n klip te staar en niemand het vuis geslaan vir die skaars koeltes nie!

Met ‘n dolmus terug huis toe is ons reg vir aandete, en hoe lekker was aandete nie gewees nie! Ons gasheer se nefie is sommer die kok en hy het ‘n goeie bord kos vir ons bedien!Ons het rustig op ons stoepie seker gemaak ons begroting klop, geëet, gesels en tevrede moeg gaan slaap (elkeen op sy eie bedjie…ons het twee enkelbedjies gehad!)!

Vroeg vroeg die volgende oggend is ons weer op en na ‘n heerlike, gesonde, vars ontbyt is ons weer sak en pak terug taxi rank toe…daar was nog so baie om te sien in die dorpie, ‘n museum wat ons graag wou gaan rondsnuffel het en vele ander plekke, maar tyd is te min en ons moet gou maak om ons 4 ure busrit betyds te maak na Fetiye, ‘n kusdorpie.

Oppad busstop toe, moes ons eers die lang, maer, trotse leeus afneem wat sommer net so langs die straat pryk – koninklik in die middel van nerens!

Op ons bus, 4ure later word ons by Fetiye afgelaai waar ons weer verdwaald wonder en vra waar ons ‘n Dolmus na Kabak kan kry…’n dorpie nog so goeie twee ure weg van Fetiye. Ek en Josh het sommer vinnig geleer om te lyk asof ons weet waarheen ons oppad is om onnodig gekarring af te keer. Die keer, toe ons omkyk, volg ‘n paar ander eendjies ons toe wat dieselfde Dolmus soek…so staan ons by ‘n stop en ‘n ou gretige oom besluit toe sy daad vir die dag is om vir ons die Dolmus so gou moontlik te kry, met kommusie is ons seker. Nie lank nie en ‘n taxi jaag op ons stop af en pak ons almal in, ry die roete se draai deur die vakansie dorp wat my sommer aan Jefreys Baai laat dink het.

Deur ‘n paar ander dorpies…en toe die skrikwekkende slangetjie afgrond pad wat ons bestuurder nie ‘n minuut van sy skedule afgooi nie! As ons nou maar hier tot ‘n einde moes kom, was dit darm op ‘n besonderse mooi plek! Die see lê turkoois blou onder ons met n rowwe wit klip afwerking.

Toe die Dolmus by ‘n doodloop kom, en almal afklim, klim ons ook maar af en soek ons ons plekkie.

Ons het verblyf by Olive Garden met groot twyfel bespreek: ‘n houthuisie, sonder lugverkoeling…in hierdie hitte kan dit moontlik moeilikheid wees. Maar die uitsig het ons oortuig om te bepsreek; en was ons verras! Die mooiste oasis; soos ‘n medetereinse wildtuinkamp.

 ‘n Turkse familie, waarvan die hele lot saam dalk drie sinne Engels kan sê, bestuur die plekkie. Ons word vriendelik na ons huisie gelei…’n houthuisie langs ‘n groot boom waarvan die takke oor ons stoepie hang en ons huisie in die diep koeltes rus.

Een vertrek met ‘n bed en muskietnet en nog ‘n klein vertrekkie met stort, wasbak en toilet. Op die stoepie is twee stoeltjies vaanwaar jy tussen die takke van die boom die mees ongelooflike uitsig oor ‘n baai het onder in ‘n vallei en die see so ver soos die horison strek.  Daar is omtrent nog 9 ander huisies weggesteek agter bome

Die eetplek is eenvoudig onder ‘n prieël, met die mees ongelooflike vars en organiese kos wat eenkant in ‘n klein kombuisie opgetoor word deur die familie.

Die helder potblou swembad, uitsig en tipiese Turkse styl lae tafeltjies en matrassies onder die prieële is ‘n hawe vir stadssiele om te kom ontlaai en te rus.

Ons het ons tyd hier so geniet – beter as enige 5* hotel! Onbyt word bedien wanneer jy wakker word en jy by die tafeltjie gaan sit, maw ons kon goed slaap tot wanneer ons wakker word en lus was om te gaan eet. Kyk net die standaard ontbyt, elke oggend:

Ons het ons dae buite spandeer – of in die swembad, of besig om te lees of slaap onder die prieële. Terwyl ons volhard met ons rus, volhard die sonbesies hulle serenade daagliks!

Ons het een keer afgestap om in die see te gaan swem, maar die soortgelyke blyplek onder in die vallei het ‘n vreemde hippie atmosfeer gehad en ons het nie baie daarvan gehou nie. Daar is vele staproetes in die vallei en watervalle, maar ons het nie ons vakansie onderbreek met dit nie… In die aande het ons dvd’s gekyk op ons laptop.

Weereens is die seun deel van die besigheid! Jazzie, seker 13 jaar oud, bedien etes en as hy nie mense bedien nie, kruiwa hy hout of maak die swembad skoon. Maar elke middag eet die familie rondom een van die lae tafeltjies en die feesmaal en kuier was iets om dop te hou!

Hartseer het ons 3 dae tot ‘n einde gekom, maar ons was so dankbaar vir die tyd wat ons daar gehad het! Lui lui is ons terug op die Dolmus, net so vinnig soos die vorige keer…by Fetiye weer op ‘n bus Omtrent 3ure verder die kus af besoek ons die dorpie Kaş waar ons ‘n hotel bespreek het vir 2 aande as ‘n bederf.

 Wat ‘n teleurstelling! Alhoewel dit ‘n pragtige gebou en ons kamer lieflik was, was die atmosfeer styf en het ons gevoel of hulle eerder geld wil maak uit jou besoek as om te verseker jy kry waarde vir wat jy betaal. Maar ons het die meeste van ons tyd gemaak! Joshua het geswem in die see, terwyl ek kon le op die sonbeddens.

 

Altwee aande het ons die dorpie gaan verken en by restaurantjies – wat moeilik gekies was tussen die hordes – gaan eet. Die dorpie het ‘n warm vakansie atmosfeer gehad met spogwinkels en straatstalletjies.

Ons het vir ons ‘n verskeidenheid Turkish Delight gekoop en dit vir die res van die vakansie baie geniet!

Baie opgewonde is ons die volgende oggend wakker en na ‘n snobisties ontbyt – met ‘n ongelooflike mooi uitsig – het ‘n bus ons ewe by die hotel kom oplaai vir ‘n dag se aktiwiteite…’n bootrit uit op die blouste blou see!

Nog ‘n hoogtepunt van ons vakansie! Met ‘n toergids wat nou en dan brokkies geskiedenis meedeel onder die lui lê toeriste se vaak mmm en aaah, vaar ons uit. Met gereelde stoppe om te swem, duik Joshua te gelukkig sommer van bo van die boot af in die helder blou water.

Na ‘n goeie middagete – hoender wat sommer op ‘n braaiertjie op die bood gebraai is, bakke slaai en vars brood – het almal ‘n leplekkie gekry en geslaap, salig! Na ons middagslapie, is ons almal afgelaai by ‘n klein dorpie op ‘n eilandjie wat onverstoord, behalwe vir die toeriste, en onveranderd rustig die lewe dag vir dag vat. Ons het daar  befame roomys geeet en uitgesien om weer op die boot te wees om te kan swem – dit was warm!

Na die roomysstop het die boot ons stadig verby Kekova, ‘n stad wat in die water gesink het, gevat. Die reünes is nog duidelik sigbaar onder die water en trappies en gedeeltes van die stad bo die water.  Naby die stad is ons weer toegelaat om te swem en die laaste swem is uitgerek so lank as moontlik.

Terug in die bus, terug in ons dorpie, na ‘n heerlike aandete terug op die dolmus, terug na ons hotelkamer waar ons eers by die swembad wegneem Baklava geeet het, baie baie beter as ons eerste Baklava so onder ‘n bederf sterredak wat ons nie gewoond is in Londen nie!

Klokslag teken ons uit die suur hotel uit, nadat Joshua ‘n ete se prys betaal het vir ‘n paar hempies se was. Dikbek is ons daar weg en skryf ons klagtes netjies op in ons gedagtes, min weet ons die dag wat vir ons voorle is glad nie een van veel opwinding nie…

By die taxirank laai ons ons sakke af, tot ons later die dag ‘n Dolmus vat Atalya toe om van daar af ‘n deurnag busrit aan te pak Cappadocia toe.

Met ‘n halwe dag se warm ure voor ons, begin ons die dorpie deurstap. Dis te warm. Ons gaan soek ‘n lêplek by die see. Dis te warm. Ons sit op ‘n bankie onder die bome. Dis te warm. Ons drink Coke. Dis te warm. Ons stap weer om swemplek te soek. Dis te warm. Ons sit weer op die bankie onder die boom. Dis te warm. Ons kry elkeen ‘n roomys. Dis te warm. Ons hou naderhand op met gesêls. Dis te warm.

Geselsies met die Turkse ooms wat hulle pensionaris dae sit en omsweet op die einste bankies waar ons sit en warm asems uitblaas, lei tot ‘n duur maar lekker middagete by die een oom se pel se seun se neef se restaurantjie. Onder bome met groot tropiese blare en blomme wat pap hang, kompleet of die hitte hulle wind uitgeslaan het, sit ons op plastiek tuinstoele en eet vars slaai en vleisbolletjies. Dis te warm om dit te geniet. My vars spanspek drankie was seker die beste ding van die hele dag.

Soos ‘n dag in die woestyn worstel ons deur die warm ure. Heeltemal onvoorbereid vir die lang wag is al ons swemklere in ons rugsakke by die taxi rank. Uit pure frustrasie klim ons oor massiewe klippe, brand ons voete, vloek onder ons asems vir ons slegte beplanning tot Joshua in sy boxer saligheid in die water soek en die dag se hitte afspoel…terwyl ek toekyk en my boude soos ‘n hardgekookte eier gaar word op die rots en die sweetsraeltjies teen my lyf angstig dieselfde salige uitwerking probeer gee, maar juis die teenoorgestelde emosies opkook.

Gaar gewag, met ‘n nat onderbroek onder die arm en meer as gereed om Kaş te groet stap ons bietjie te vroeg die bult op na die taxi rank en sit en wat op ‘n vuil, grillerige bank waar vele ander warm lywe al skuiling moes soek onder die lugverkoeling.

Uiteindelik op die bussie, oppad na Atalya.

Stadig maar seker begin ons meer lewe kry met die vooruitsig van ietsie lekker eet voor ons die nagrit op die bus aanpak. Ons beplan ons uur op die stasie in detail om seker te maak ons mors nie ‘n enkele minuut nie.

Toe is die stasie een van sy eie. ‘n Massiewe gebou wat meer soos ‘n lughawe as ‘n busstasie lyk. Die busbestuurder en sy amptenare wys elkeen ‘n ander rigting vir ons aan…ons staar verward hulle aan, en dan weer die groot gebou, dan weer hulle wat baklei waarheen ons moet gaan…’n dankie en ‘n handskud kry ons uit daai een.

Ons is nogsteeds verdwaald…maar die informasie toonbank wys ons effektief rigting aan. Die kaffeteria styl restaurantjies se kos lyk die een bleker as die ander, so ons kies toe een met helder rooi Wimpy stoele om darm ‘n tikkie kleur aan die affêre te gee.

Die bleek deeg happies doen die ding en ons kry elkeen ‘n beurt om vir ‘n Lier die badkamer te besoek vir vars klere – bygese, vars uit die sak beteken nie vars uit die was nie… – tandeborsel en darm die armholtes te spoel en spat met water.

So wag ons half vars vir ons bus tot Joshua sê hy dink die bus wat ‘n entjie verder besig is om te laai ons sin is. Ek stry nog, toe die man ons kaartjies vat en die bus begin brul. Met minute het ons dit gemaak en die wiele rol ons uit Atalya.

Die bus is luuks! Meer as genoeg spasie vir Joshua se bene, ons kry koue water en koekies en so begin ‘n lang nag vir ons. Net om ook die televisie te gebruik, kyk ons ‘n plaaslike sepie met ons eie vertaling daarvan.  Na dit kyk ons ‘n dvd op ons laptop, en toe slaap ons vas. Toe ons wakker word, is die landskap nuut en vreemd in die vroeë oggendson.

Ons word almal sak en pak afgelaai en so saam die wakker word sukkel ons om te verstaan wat aan gaan. 20 minute se wag en net toe almal wakker is en vies voel oor die wag, kom die aansluitingsbus vir die laaste 30min in tot by Cappadocia.

Daar aangeland bel die informasiekantoor ons gasheer wat ons met sy karretjie kom haal en vinnig die steiltes oprits en by ons grothotel intrek.

Ons word ‘n heerlike ontbyt aangebied vanuit ‘n eetkamertjie met ‘n pragtige uitsig oor die vreemde landskap. Na ontbyt word ons die grotkamer gewys en ons kon kies of ons wou wag vir ‘n ander kamer, of die grot. Met die gedagte van ‘n stort en die geleentheid om in die grotstyl eie aan die omgewing te bly, skud Joshua hand met ‘n Turk wat matte in Kaapstad verkoop het en ‘baie dankie’ goed verstaan.

Skaars in die grot en ons is in die stort, Josh was die sout van die see af en ek die sout van ‘n ander bron water…

Die drein stink genadeloos…maar is niks in vergelyking met ons eie uitlaatstelsels nie en ons is beide stil stil dankbaar vir die oorheersende drein…

So slaap ons ‘n uur of wat ons sikspens lyfies en gaan stel ondersoek in die luilekker dorpie. Straatjies vol restaurantjies en winkeltjies met persiese matte van dak tot mat bied die dorpie ‘n vakansie gevoel aan die hordes toeriste wat die vreemde landskap wil kom aanskou.

Na ‘n koue smoothie dink ons weer ons is sterk en begin stap na die Rose Valley wat klaarblyklik pienk word in sonsondergang. So stap ons en vat uit nuuskierigheid hier en daar ‘n afdraai om ondersoek in te stel op die omgewing. Deur berge en deur dale stap ons, met niks minder as plakkies aan ons voete. Stof tussen ons tone, stof oor ons voete tot by ons kniee…maar die buitelig is heerlik.

By die Rose Valley aangekom kyk ons hoe die son sak en waardeer die pienk klippe om ons net so veel soos die man wat spontaan sy Klarinet speel tot die son onder is.  Toe vra ons rond vir ‘n rybeurt terug dorp toe saam die menigte toergroepe…maar geen toergroep of bus wou ons toelaat op die menigte oop sitplekke nie.

Toe stap ons maar. Teen donker is ons by die groot, besige pad en weet nie waar om te stap nie, in die middelman of teen die skouer van die pad met trokke, busse en karre wat ietwat vinnig verby ons jaag. By die eerste plek wat lewe aandui, ‘n swierige hotel, gaan ons in en vra of hulle vir ons ‘n taxi kan bel. Na ons aangestaar is asof die kat ons eers deur die stof gesleep het en toe daar ingedra het, vat die bestuurder oor en kry vinnig dinge aan die gebeur. Na geselsies oor Suid Afrika, skud Joshua weer hand en bedank hulle vir die hulp en uiters dankbaar sak ons terug in die taxi se sitplek.

Ons vier ons veilige aankoms met ‘n ete en glasie wyn, waarna ons die dreingrot begroet en diep slaap.

Die volgende oggend vroeg sit ons op die stoepie om die swerm lugbalonne wat in die vallei rondsweef dop te hou. Toeriste wat bereid is om ‘n duuuuur prys te betaal, kan die vallei en vreemde landskap vanuit ‘n lugballon aanskou. Ons het reeds by die huis besluit ons begroting laat dit nie toe nie. Dit is wel iets om te aanskou vroeg die oggend.

 Surrealisties dryf die kleurvolle tolletjies in die lug bo die vreemde, droeë, karbonkel landskap en die gas blaas soos ‘n vreedsame, geduldige sug uit die ballonmagies. Dit bied ‘n vreemde mooi prentjie vir ons om vir ewig vas te vang.

Na ontbyt kom laai ‘n bussie met ‘n toergids en ‘n paar ander toeriste ons op. Sonder jou eie vervoer is dit onmoontlik om die bron van geskiedenis tot sy reg te laat kom. Onder leiding van ons Turks-Romiense Toergids en die Turkse Drywer met se gretig geel glimlag, is ons deur ‘n paar indrukwekkende geskiedkunde plekke.

 Ons het die Pigeon Valley vanaf ‘n uitkykpunt gaan aanstaar waarna ons ‘n ondergrondse stad besoek het waar die vroeë Christene o.a geskuil het  – dit is egter nie net deur die Christne gebou nie, maar oor ‘n tydperk van ‘n paar honderd jaar deur verskillende mense ontwikkel en vir verskillende redes gebruik. Hierdie besoek was nog ‘n hoogtepunt van ons toer! Ons was vier van die ses vlakke af in die muisgangetjies. Die lugventelasie en vernuf waarmee dit gebou is, is absoluut verstommend.

Daarna het ons ‘n Christen grotkerkkie besoek en deur die Hlara Vallei gestap. Na middagete het ons ‘n Klooster besoek wat uit klip/grot uitgekap is wat ook deur die vroeë Christene gebruik is. Dit was later gebruik as ‘n herberg.

‘n Vinnige stop by ‘n fabriek wat marmer en ander klip gebruik om pragtige juwele te maak, wen vir my ‘n marmer eier omdat ek ‘n verkeerde antwoord gegee het, maar die enigste een was wat iets gese het.

So het ons dagtoer tot ‘n einde gekom met geeltand se stil grappies wat tot sy plesier deur ons twee raakgesien is, deels omdat Joshua die enigste een was wat nie aan die slaap geraak het nie en sekerlik omdat ons verby die nikotienklontjies kon kyk om die grappies raak te sien.

Na twee aandetes…een by ‘n restaurant en een van die beste wegneem kebabs later op ons stoep, dink ons ons gaan weer lekker slaap. Maar dis toe daardie nag wat my maag besluit om die drein, Joshua, myself en enige naburige grot gas te gee. Al wat ek kan se is dat ons op die hoek van Cakmakli en Cakir gebly het…

  

Soos ‘n troep onder die straatnaambevelvoerder het ek gehoorsaam die bevele uitgevoer. Daarmee die einde van die honeymoon era in ons huwelik…

So met ‘n vreemde gevoel op die maag is ons vroegoggend op, Josh van die bed en ek van die toilet, en na ontbyt laai ‘n taxi ons op om ons by die lughawe te gaan aflaai. Terwyl ek die toilete op die lughawe patroleer, kry Joshua ons ingeboek en ‘n maklike vlug later is ons weer in Istanbul. Met ‘n kooplysie so lank soos my voorarm is ons weereens op die bus deur die platoniese buton stad, die keer in ‘n hotelletjie sommer naby aan die taxi rank. Sonder sweetkolle is ons hierdie keer ingeboek en oppad met ‘n strategiese plan vir inkopies.

Eers die spesery mark vir speserye, toe die Grand Bazaar vir vele ander items; Turkse hamam handoeke, ‘n koper koffie kannetjie, ‘n ware Turkse koffie vir Joshua…

 

 en toe moes ons skiet of my maag skiet. Die keer wou ek nie hang oor ‘n gat toilet nie, so ek knyp dat die hoendervleise staan. Net daar is die hele vakansie se beplanning vir die laaste dag se inkopies en ‘n hammam besoek afgeknyp.

 Joshua lei my in ‘n Britse Toerste Pub, met die tipiese groot plakate van die Sokker wedstryde wat hulle uitsaai en al die bekende Britse biere. ‘n Plek waarvoor ek en Joshua gewoonlik sou lag en verby hou, is ons die keer dankbaar in, want daar sal verseker ‘n troon eerder as ‘n gat wees. En ek het koninklik stelling gaan inneem op die troon, wat op die einde ‘n 5* hotel se gaste badkamer was…salig. Die besoek het ons twee biere gekos!

Daardie aand eet ons alles wat vir ons lekker was, weer. Ek eet, of my maag dit gaan uitspoeg of nie, ons eet ons weg huis toe asof dit nie anders kan nie. Ek eet ‘n mielie, Joshua ‘n massiewe kebab, ons kry vet Turkse krul koeksusters, loop vir oulaas oor die brug waar die manne visvang, drink tee by ons kafeetjie langs die datumlose ou toring, gaan eet ‘n hele bord heuningbesope koek by ‘n ander straatkafeetjie en na ‘n lang vermaaklike proses oorhandig die roomysverkoper uiteindelik ons laaste roomys onder sy klokke wat saam ons lag. Ons neem in en neem in so veel as wat ons kan, tot ons hartsbekers oorloop

By die hotel gaan slaap ons na ons sakke dik gepak is en ek op dit moes sit vir Joshua om dit toe te kry! Hartseer om hierdie wonderlike land en toer te groet, opgewonde om huis toe te gaan en die jaar verder te gaan aanpak.

Grepies dink uit my gedagtes:

Koningsblou le Sy kleed;  jou watermantel met wit klip omboor.

 Ons teug jou in, ‘n delikate koppie tee, sluk sluk jou sand, son en speserye

Jy pryk trots, gooi jou kleure en geure in die lug en duiselig dans jy jou Ronda alla Turca rondom talie dans!

Ons het jou gesien, ons kon jou proe – ons Turkish Delight!

March 8, 2012

Places I have been. Here are a couple of my favourite photos of places I have been:

Posted in Travel at 08:42 by amadeatravel

March 7, 2012

Here is more about us, tell us more about you!

Posted in Uncategorized at 13:12 by amadeatravel

 

COMPANY PROFILE 

Amadea Travel 

Amadea Travel strives to provide the best possible service and sound advise regarding all your travel requirements in a hassle free way.  Founded in March 2007 by Ms Belinda Venter, Amadea Travel has set the standard in travel excellence for the past 5 years.

 

Ms. Venter, who has widespread experience in the Travel- and Tourism industry, spent many years working for larger travel agencies as a qualified accountant.  She soon realised the importance of attention to detail and the need to provide a personalised service not only to corporate clients, but to those individual clients wishing for a reliable travel agency to provide them with extra effort where service is concerned.

The Amadea Travel consultants are of the highest quality, having been professionally trained as travel agents and having great passion for their job.  Their mission is to provide a timely and professional service to each prospective and current client. They will also take each client’s individual needs in to consideration to provide a unique and exceptional travel experience.

Amadea Travel is an owner managed company which means that the owner is always available to look after our clients and make sure that they get the best possible service.  Amadea Travel is completely independent from any travel group and is therefore not forced to make use of any preferred suppliers.  But we also want to give our clients the same benefits as a big group can, by negotiating better deals with a bigger buying power.  For this reason we are affiliated with the affiliated Tourvest group.  As a Tourvest broker we have access to and the use of all their negotiated agreements without being forced to only make use of their preferred suppliers.  With us you get the benefits of both worlds, a company small enough to deeply care about our clients and by our associations, big enough to negotiate better deals on your behalf.

Post something about yourself:

Kind Regards

The Amadea Travel Team